Die vorm van Afrika
‘n Herinnering aan die donkerte: die meisie in Queen’s Bar. Ek het haar raakgeloop waar sy al huilende oor Leicester Square geloop het en waar die sypaadjies toe glipperig was van die blare wat al afgeval het; sy het by die ingang van die Empire Cinema ingegaan en driftig weer omgedraai (dit was nie goed genoeg nie) en toe uiteindelik op ‘n kroegstoeltjie in Queen’s Bar tot rus gekom, haar gesig opgemaak, ‘n gin en tonic gedrink; ek het nie die moed gehad om enigiets te sê of die details uit te vind nie. Buitendien, dit gebeur altyd oral. Mens huil nie as jy nie eers gelukkig was nie; trane beteken altyd iets te beny.
